Friday, May 14, 2010

VCSV se nuwe Studentewerker

PASSIE. “Die beste manier om jongmense vir Christus te bereik is deur jongmense! Jongmense met ʼn opregte passie vir Christus. Jongmense wat die verskil ken tussen ‘Religion and Relationship”.

My naam is Carla Swanepoel, die nuwe Nasionale Organiseerder van die Studente bediening vir die VCSV. Ek het ʼn groot droom vir studente bediening in SA en hierdie droom groei daagliks! Dit het alles begin Februarie vanjaar, toe my roeping my soos ʼn vuishou tussen die oë slaan. Toe die Here my van my eie paadjie verwyder en op Sy enorme PAD plaas.

My paadjie het begin in 2003 toe ek besluit het om by die Universiteit Stellenbosch, BCOMM Bedryfsielkunde te gaan studeer. In 2004 het ek egter besluit dat dit nie is wat ek wil doen nie en begin nadink oor my toekoms. In 2005 terwyl ek ʼn groepie eerstejaars gementor het, noem die een student dat hy gewens het dat ek sy onderwyser was op skool. Net daar is die saadjie geplant en ek besluit dat ek onderwys gaan gee. Alhoewel ek nie die Here vooraf in die saak geken het nie, het ek tog altyd geweet ek is daar vir ʼn rede en dat ek as jong onderwyseres ʼn band met die jongmense kon aanknoop wat die ouer onderwysers nie kon nie. Ek het egter altyd geweet dat die Here my sou wegneem by die skool sodra ek nie meer met die kinders “connect” nie.

Begin 2010 het ek skool toe gegaan met ʼn verwagting vir die nuwe jaar, min wetend wat die Here se plan met my lewe was vir die jaar nie. Voor ek my oë kon uitvee het die Here vir my tekens uit verskeie oorde en op verskillende maniere gegee dat ek moet aansoek doen vir ʼn pos by die VCSV. Ek het baie gewik en geweeg – veral omdat ek nie bevestiging van die Here gekry het nie - maar omdat die aansoeke oor ʼn week sou sluit het ek besluit om wel aansoek te doen.

Van daardie dag af het ek al hoe meer opgewonde geraak oor die werk by die VCSV en kon nie wag om te hoor of my aansoek suksesvol sou wees nie. Intussen het ek al hoe meer besef dat die konneksie tussen my en die kinders besig was om te verdwyn. Toe ek die onderhoud kry het ek besef dat my paadjie by die skool besig was om tot ʼn einde te kom. Voor ek my oë kon uitvee is ek die pos aangebied en ek was in EKSTASE! My grootste hartseer was om my matrieks te verlaat het, maar ek het geweet MY ROEPING IS DUIDELIK!

Nou waarheen nou? Ek het ʼn droom! En is op die regte pad. Maar wat is die PVA? Vir nou…bid! Ek en enige iemand wat saam met my wil bid, moet bid vir spesifiek twee dinge. Een vir leiding vir my. Dat ek nooit uit my eie keuses sal maak nie, maar altyd sal doen wat die Here my lei om te doen. Tweedens vir studente vir die bediening. As daar nie studente is nie, is daar geen bediening nie, so ons moet bid dat daar studente kom wat saam met my en UCSA ʼn paadjie wil stap.

Die studente bediening bestaan uit drie bene. Kampustakke, Diensjaar vir Christus en Vakansiedienste. Ek was geseënd om die afgelope nege jaar betrokke te kon wees by die VCSV se vakansiedienste en voel heel gemaklik met die deel van my werk.

Diensjaar en Kampustakke is ʼn ander saak. Ek het nog nie veel met Diensjaarspanne te doen gehad nie en is gelukkig om kollegas te hê wat so mooi met die spanne werk My grootste uitdaging is egter om die getal studente wat diensjaar doen te verhoog en hoe ek dit gaan doen weet ek nog nie, maar ek weet dat die Here vir my alleen sal kan wys wat ek moet doen om sy werk onder studente ook te doen.

Kampustakke stig is huidiglik vir my grootste bekommernis. Ek weet nie regtig waar om te begin en met wie om te gesels nie. Ek het al met menigte mense kontak gemaak, maar daar het ongelukkig niks van gekom nie. Ek bid ook hier vir lyding van die Here om my te wys wat SY wil is en nie my wil nie.

Die woorde van Koning Salomo is, “ʼn Tou wat met drie stringe gevleg word is baie sterker as een wat net gevleg word met twee.” So gaan ek, God en die studente van Suid Afrika saam ʼn tou vleg wat studente oor die land in Christus gaan saambind, sodat ons verenigd groot slae vir die Here en Sy koninkryk kan slaan.